Triomfmars en Treurlied: Musiek oor die Anglo-Boereoorlog
R350.00
Die oorspronklike bedoeling was dat hierdie bundel in 1999 sou verskyn om saam te val met die 100-jarige herdenking van die begin van die Anglo-Boereoorlog. Twintig van die beste komposisies oor die Anglo-Boereoorlog is uit die F.Z. van der Merwe- versameling van Suid-Afrikaanse musiek gekies en verklank van die belangrikste gebeure tydens die oorlog.
Tussen die pole van die triomf van die Britse magte en die neerlaag van die twee klein Boererepublieke lê ’n hele spektrum menslike emosies. In die musiek wat hier opgeneem is, kry ’n klein deeltjie van dié uiteenlopende stemminge hul neerslag. Die twee werke waarmee die bundel open is tekenend hiervan. Aan die een kant is Dr Jameson’s Grand March, wat toe heel ironies ook dr. Jameson se aftog ná die mislukte inval geword het. Aan die ander kant lê die Afscheidsgroet van het Volk der ZAR aan Dr Jameson, waarin die versugting herhaal word: “Gij komt … nooit tot ons weerom, Dokter Jameson!”
Die werke van Britse komponiste is meestal opruiende marse en vrolike danse ter herdenking van veldslae en verowerings. Dit word beurtelings met Nederlandstalige liedere in die versameling geplaas. Die Britse werke weerspieël dikwels verowerings en die ontsetting van beleërde dorpe, soos The Relief of Ladysmith en Mafeking Barn Dance. Daarteenoor is die Nederlandse tekste meermale ernstig, soos Kruger’s Geloof en Bede en Di Sterwende Wees op di Slagveld.
Omdat hoofsaaklik klaviersolo’s en klavierbegeleide sangsolo’s in die bundel ingesluit is, kan die werke geredelik deur soliste en kore uitgevoer word. Die musikoloog prof. Gerrit Olivier lewer toeligtende kommentaar oor die aard van die komposisies. Saam met die geskiedkundige prof. Fransjohan Pretorius se aantekeninge oor die historiese konteks van die werke, maak dit dié bundel ’n kosbare versamelstuk.
| Dimensions | 254 × 187 × 13 mm |
|---|---|
| Genre | History |
| Outeur | Fransjohan Pretorius, Gerrit Olivier |






