Skermutselings en skandale: Paul Kruger deur ander oë, 1890-1895

R250.00

Alles het nie altyd so vlot verloop in die jong ZAR nie, en in hierdie boek lig Heinie Heydenrych die belangrikste strydpunte uit wat die politiek tussen 1890 en 1895 oorheers het.

ISBN: 978-0- 620-77580- 9

Kategorieë: ,

Etikette: ,

Paul Kruger het saam met die imperialis Cecil John Rhodes die politieke toneel van die laat-19de eeu in Suider-Afrika oorheers. Hy het ’n groot aandeel daarin gehad dat die Transvaal sy onafhanklikheid van Brittanje ná die anneksasie van 1877 teruggekry het en het vir nie minder nie as vier termyne gedien as staatspresident van die Zuid-Afrikaanse Republiek. Kruger het verskillende inisiatiewe geloods om die relatief onderontwikkelde en afgesonderde ZAR deel van die moderne wêreld te maak. ‘n Spoorstelsel is aangelê, nywerhede is aangemoedig en “geleerde” Hollanders is aangestel om die staatsadministrasie te verbeter.

Maar alles het nie altyd so vlot verloop in die jong republiek nie, en in hierdie boek lig Heinie Heydenrych die belangrikste strydpunte uit wat die politiek tussen 1890 en 1895 oorheers het. Veral die Engelstalige pers en die voortvarende jong redakteur van Land en Volk, Eugène Marais (ja, die nimlike digter van “Winternag” en navorser oor termiete en bobbejane), het nie geskroom om Kruger te kritiseer nie. Dit was veral Kruger se konsessiebeleid, sy bevoordeling van familie en vriende, die aanstelling van Nederlanders in hoë poste, die bestuur van sleuteldepartemente soos die Polisiediens en verwarring oor die verkiesing van die Staatspresident wat onder kritiek deurgeloop het. Die skote het behoorlik geklap en Marais is by geleentheid beboet en met tronkstraf gedreig.

Ooreenkomste met fasette van die huidige Suid-Afrikaanse politiek is ooglopend, maar die skrywer wil geen maklike parallelle trek nie. Die omvang van die probleme in die ZAR is baie kleiner as wat vandag in Suid-Afrika ervaar word. Nogtans is dit boeiend om te lees waarop die kritici in Kruger se tyd klem gelê het en op watter wyse die probleme hanteer is. Kruger moet veral onthou word vir sy weerstand teen Britse inmenging in die sake van die ZAR ná die Jamesoninval van 1895, al vra die skrywer in dié werk of minder koppigheid en ’n bietjie meer wysheid van Kruger se kant in die kritiese periode wat hier beskryf word, nie dalk die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog kon afweer nie.

Skermutselings en skandale: Paul Kruger deur ander oë, 1890–1895 teken ’n lewendige beeld van die politiek in die ZAR in ‘n tydvak wat nog nie veel aandag in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing geniet het nie.

 


 

Teikenmark:

Die figuur van Paul Kruger, die raakpunte met die huidige Suid-Afrikaanse politiek en die boeiende verhale van politieke botsings en skandale toegelig met ruim aanhalings uit die koerante van die 19de eeu maak die boek toeganklik vir sowel historici as gewone lesers met ’n belangstelling in Suid-Afrikaanse geskiedenis. Pentekeninge van die belangrikste “karakters” en ’n aantal historiese foto’s wat nog nie voorheen gepubliseer is nie, dra by tot die aantreklikheid van die boek.

Gewig 0.45 kg
Dimensies 152 × 222 mm
Outeur

Heinie Heydenrych

Genre

Geskiedenis

Verskyningsdatum

Januarie 2018

Aantal bladsye

284