Piet van Rooyen is op Vryheid in KwaZulu-Natal gebore. Hy matrikuleer in 1971 in Windhoek waarna hy aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. In 1983 behaal hy ’n D.Phil.-graad aan die Universiteit van Namibië. Hy behaal in 2002 ’n tweede meestersgraad.

Naas verskeie akademiese publikasies het ook poësie en fiksie uit Van Rooyen se pen verskyn, waaronder Die spoorsnyer, wat in 1994 met die Tafelberg/De Kat/Sanlamprys en in 1995 met die C.N.A.-debuutprys bekroon is. In 1997 verskyn Die olifantjagters waarvoor hy in 1998 die M-Net-prys ontvang.

Van Rooyen is emeritus professor aan die Universiteit van Namibië en woon in Namibië op ’n plaas naby die Gamsberg.