Dr. van Rensburg het sy loopbaan as klankingenieur begin, maar hom verder in die teologie bekwaam, ’n doktorsgraad behaal, by verskillende universiteitskolleges doseer en sewe boeke oor teologiese onderwerpe geskryf. Hy woon tans in Engeland en skilder in sy vrye tyd. Die skildery op die omslag is deur die skrywer self. Heenkoms is sy tweede digbundel.

Meyer van Rensburg is op 4 Julie 1944 in Upington gebore en word groot in die Noord-Kaap en Noordwes. Hy begin sy loopbaan as klankingenieur by die SAUK. Hier maak hy kennis met musiekkunstenaars vir wie hy liedjies skryf. Dit lei weer tot die skryf van poësie, en hy debuteer in 1983 met die digbundel Klankmanwoordboom, wat baie goed deur die literêre kritiek ontvang is.

Ná 1982 word Van Rensburg omroeper by Punt Radio en Radio Kansel. Hy werk ook as deeltydse Bybelskoolleraar en studeer teologie. In 2004 verhuis die gesin na Engeland waar Van Rensburg by verskillende universiteitskolleges doseer en ’n doktorsgraad in Teologie verwerf. Sewe boeke oor teologiese onderwerpe verskyn uit sy pen.

Onder aansporing van Daniel Hugo begin hy weer in Afrikaans skryf. Jeugherinneringe, die verhuising na Engeland en teologiese besinnings vind neerslag in Heenkoms. Die omslagskildery is deur die skrywer self.